Neville Turley

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.  2 Petrus 1:4

In 1681 skryf Heraclitus Ridens, 'n digter en essayis: “He makes no more of Acts of Parliament, than if they were like promises and pie crusts, made to be broken.” Uit die geskiedenis weet ons nie oor wie hy geskryf het nie, maar sy woorde is wel vandag steeds relevant. Die betekenis is duidelik, ons moet nie op beloftes vertrou nie.

Dit is 'n les wat 'n mens ongelukkig baie gou in die universiteit van die lewe leer. 'n Belofte is wel 'n versekering dat iets gedoen sal word of sal plaasvind, maar selfs beloftes wat in alle opregtheid gemaak word, word nie altyd gehou nie.

Die Bybel is vol beloftes van God – beloftes aan nasies, konings, profete, leiers, priesters aan jou en aan my. So baie beloftes dat dit eintlik onmoontlik is om te tel. Bronne verskil maar daar is na raming 3 600 plus beloftes in die Bybel. Sommige van hierdie beloftes is reeds vervul terwyl ander nog moet gebeur. Een ding is egter seker, elke belofte wat God gemaak het, sal nagekom word, want God vertel nie leuens nie en Hy is nie vals nie. Ons kan die beloftes van God vertrou.

In ons teksvers beklemtoon Petrus dat ons van die korrupte wêreld en al die beloftes wat verbreek word, kan ontvlug. Elke Christen wat Jesus Christus as Saligmaker aanvaar, het toegang tot die krag en beloftes van God. Ons word belowe dat in Jesus beskik ons oor alle hulpmiddels wat ons nodig het om in sy goedheid en heerlikheid te kan deel en om tot eer en verheerliking van God te kan leef.

Dit is God se kosbare belofte aan jou en my en aan elkeen wat glo.

Gebed: Almagtige God, help ons om deur u Heilige Gees so te leef dat ons mense met wie ons in aanraking kom, sal lei en inspireer. Gee dat ons leefstyl ander mense nader na U sal trek en hulle sal bemoedig om U te eer. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen