Deur Benescke Janse van Rensburg

[Verlede Vrydag het ek vertel van Projek SOS100 waarin Tygerberg 104FM in die Kaapse Skiereiland geld ingesamel het om veevoer vir boere in droogtegeteisterde gebiede aan te koop. Hier is hoe die projek begin het.]

Op Kersdag sit Adri Williams van ’n nie-regeringsorganisasie, Khayelitsha Cookies, saam met haar gesin en ouers langs ’n etenstafel. Hoewel dit kreun onder die feesmaal daarop, kan sy nie ophou dink aan die klomp boere wat op dieselfde dag, weens die droogte en opgehoopte skuld, nie meer veevoer vir hul vee kan aankoop nie – en self ook nie meer kos in hul huise het nie. Wie gaan na hulle omsien? Op haar voorstel dat hulle iets moet doen, sê haar pa aanvanklik: “Adri, jy kan nie almal in ons land help nie. Fokus eerder op jou eie nie-regeringsorganisasie en help die mense daar.”

Die dringendheid in Adri se hart neem egter toe. Sy weet dit is ’n opdrag van God. Dan neem sy die eerste stap van geloof. Sy skakel met die organisasie, Boere in Nood, om te bepaal waar in Suid-Afrika die nood vir veevoer die grootste is. Sy kry ’n borgskap van MAN Truck and Bus vir die vervoer van die veevoer. Sy onderhandel met verskaffers vir ’n goedkoper prys vir die veevoer en dan, die grootste stap, sy neem R17,000 van haar eie, klein nie-regeringsorganisasie se geld (wat sy nie eintlik kan bekostig nie) en betaal vir die veevoer – in gehoorsaamheid aan God se opdrag.

Met die aflewering van die eerste besending veevoer, staan sy en haar pa langs die trok en kyk hoe groot, geharde boere, staan en huil van dankbaarheid. Hulle huil saam. God het hulle gebruik om te wys dat Hy die boere se gebede vir verligting gehoor het. ’n Week later kom Tygerberg 104FM aan boort en Projek SOS100 word amptelik gebore.

In Deuteronomium 33: 32-33 lees ons: “Julle moet nougeset doen wat die Here julle God julle beveel het. Julle moet nie in enige opsig daarvan afwyk nie. . . sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees . . .” Ook in 2 Samuel 15:22 lees ons dat gehoorsaamheid vir God veel meer waardevol as offerandes is. Hy verkies dat ons gehoorsaam aan Hom sal wees, eerder as om met goeie idees te kom en te hoop dat Hy dit seën. God-geïnspireerde idees is immers reeds geseën.

Abraham moes vir Isak gaan offer. Josef was in die tronk opgesluit vir ’n hele paar jaar. Adri moes R17,000 vir die veevoer betaal (wat sy nie eintlik kon bekostig nie). Omdat Abraham getrou was, het hy ’n nageslag so veel soos die sterre van die naghemel gekry. Omdat Josef getrou aan God gebly het, is hy binne ’n dag van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder. En Adri het gesien hoe haar R17,000 in ’n week se tyd bykans R3 miljoen se bydraes word wat soos ’n golf van hoop oor ons land spoel.

In al my jare as omroeper, het ek God nog nooit so tasbaar in enige projek beleef nie. Bydraes was ongekend en persoonlike getuienisse stroom steeds in van hoe God luisteraars se “droogtetoestande” in hul eie persoonlike lewens verlig het omdat hulle in eenheid met sy saak was. Wat sou gebeur het as Adri nie gehoorsaam was nie? Wat vra God vandag van jou? Kom ons bly gehoorsaam en neem daardie eerste stap van geloof. Hy sal sorg vir die res. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek ’n instrument in u hand mag wees. Help my asseblief om duidelik u Heilige Gees se stem in my lewe te herken – en versterk my ook om gehoorsaam te wees as U my vra om iets te doen al maak dit vir niemand as vir U sin nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.