Deur Benescke Janse van Rensburg

Kort na middernag verlede Saterdagoggend het Wicus en Adrie Scheepers op hul kleinhoewe in Pretoria-Wes wakker geword van hul honde wat blaf. Wicus het opgestaan om te gaan kyk wat aangaan. Net voordat hy die huis verlaat het, het Adrie hom herinner om sy koeëlvaste baadjie aan te trek. Dít het sy lewe gered.

Buite die huis het inbrekers Wicus twee keer in die rug geskiet en hom met ’n mes probeer aanval. Die koeëls is egter teen die baadjie vas en die mes het aan die materiaal van die baadjie vasgehaak. In ’n onderhoud met Netwerk24 ná die voorval het Wicus gesê: “As ek die baadjie nie aangehad het nie, was ek gone.” Hy glo egter dit was meer as net die baadjie wat hom gered het. “Die Here was dáár en Hy het my beskerm.”

In Efesiërs 6:12 herinner Paulus ons dat ons daagliks in ’n stryd is: Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Hy gee ook aan ons raad oor hoe ons hierdie stryd moet aandurf in vers 13: “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.”

Wat is hierdie wapenrusting waarvan Paulus praat – en hoe moet ons dit daagliks aantrek?

As gelowiges is ons nie gevrywaar van uitdagings wat ons pad mag kruis nie. In donker tye word dit selfs nog belangriker om die wapenrusting aan te trek omdat ons daarsonder geen weerstand kan bied nie. Wicus Scheepers het beleef hoe die koeëlvaste baadjie sy lewe gered het. Kom ons maak seker ons trek daagliks God se wapenrusting aan sodat ons ook kan sê: “As ek die baadjie nie aangehad het nie, was ek gone, maar God was dáár en Hy het my beskerm.”  Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u wapenrusting. Lei my asseblief vandag om my gedagtes rein te hou, my geloof en vertroue in U te plaas, die waarheid na te streef, my geloof en vertroue in U te plaas en bereid te wees om as ’n instrument in u hand op te tree en U woord my wapen te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.