Xanthe Hancox

Toe Dawid se einde nader, het hy sy seun Salomo beveel: “Noudat ek die pad van alle mense moet gaan, moet jy sterk wees en soos 'n man optree. Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte, sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die wet van Moses. Dan sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen en oral waar jy gaan.  1 Konings 2:1-3

Dit was Dawid se raad aan sy seun Salomo wat nou as koning baie besluite moes neem. Hy wou hê dat sy seun sukses moes behaal en miskien het hy vermoed dat daar vir Salomo baie meer uitdagings en toetse voorlê as wat voorheen die geval was. Die uitdrukking wees sterk en tree op soos 'n man is dieselfde een waarmee die Filistyne (1 Samuel 4:9) mekaar bemoedig het toe hulle moes gaan veg teen wat hulle beskou het as 'n onoorkomelike oormag. Dawid het geweet dat Salomo groot verantwoordelikhede sou moes dra, en groot verantwoordelikhede verg krag en moed.

Dawid het ook geweet dat Salomo voorspoedig sou wees indien hy aan God gehoorsaam is. En dit was nie sommer net algemene goeie raad nie; Dawid het 'n spesifieke belofte van God ontvang. God het Dawid beloof dat solank sy seuns gehoorsaam aan Hom is, sou hulle die troon van Israel behou. Wat 'n wonderlike belofte! Dit het nie saak gemaak wat die Assiriërs of die Egiptenare of die Babiloniërs doen nie, solank as wat Dawid se seuns gehoorsaam was en God met hart en siel gedien het, sou Hy hulle fisiese, aardse koninkryk in stand hou. God sou vir alles sorg.

Miskien beny ons die seuns van Dawid oor hierdie belofte, maar ons het 'n soortgelyke belofte van God ontvang. Jesus sê in Matteus 6:33: "Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." Die Here beloof dat as ons Hom eerste stel en aan Hom gehoorsaam is, sal Hy vir die res sorg. Die geskiedenis leer ons dat God getrou was aan sy belofte aan Dawid, en ons kan verseker weet dat Hy ook sy belofte aan ons sal hou.

Gebed: Here, dankie vir die belofte dat U vir my alles sal gee wat ek nodig het. Skenk aan my die nodige krag en moed om in elke besluit wat ek vandag neem, U eerste te stel. Amen