Ek hou van God want Hy het my alles gegee wat ek nodig het

Danny Fourie

… sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê  Johannes 3:15

Sal dit nie lekker wees as die Here elke wens van ons vervul nie? Lekker, wel ja, maar, en daarom gaan dit vir my, nie noodsaaklik nie. Want wat ek nodig het, het die Here lankal vir my gegee. Hoe sê die kategismus nou weer? Dat my enigste hoop in lewe en sterwe is dat ek deur die bloed van Christus seker kan wees van my plek in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.

Jy kan God se geskenke met 'n groot sak geskenke vergelyk. Daar is Christene wat op hulle geskenke bly wag, terwyl die sak reeds aan die boom hang. Daar is ook Christene wat die sak wel gekry het, oopgemaak het, maar wat besig geraak het met ander dinge en skoon vergeet het wat hulle gekry het. Wanneer Paulus in Romeine sê dat ons moet bly wees, kan hierdie Christene nie verstaan waaroor hierdie blydskap gaan nie.

Paulus sê dat ons bly kan wees nadat hy in die fynste besonderhede uitgelê het wat Jesus se werk op aarde vir ons beteken. Neem alleen Romeine 8. Daardie 39 verse is boordens toe vol met die mooiste beloftes van God aan ons. Lees Romeine 8 'n paar keer vir jouself deur.

Op daardie beloftes kan ons vertrou, kan ons op bou en kan ons aan vashou. Dit is die evangelie. Dit alles doen God vir ons. Soveel hou Hy van ons. Wanneer 'n mens dit jou eie maak, kan jy tog nie 'n ongelukkige Christen wees nie.

Ek word altyd bly wanneer ek hierdie hoofstuk lees. Die Bybel is nie 'n saai boek nie. Die Bybel is nie 'n boek waarvan jy 'n treurige gesig kry nie. Die Woord van die Here is juis die enigste boek wat my en jou op so 'n unieke manier kan bly maak. 'n Mooier geskenk bestaan daar nie.

Gebed: Here, dikwels wanneer ek teleurgesteld is oor die dinge waarvoor ek gebid het en nie ontvang het nie, vergeet ek dat U reeds vir my alles gegee het wat ek nodig het. Help my om dit deur u Gees raak te sien. Amen