Ek hou van God want Hy het alles onder beheer

Danny Fourie

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet …Romeine 8:28

Gister het ons gepraat oor die ou Israeliete wat vir dae en weke en jare agter die wolk aan getrek waarin God hulle voorgegaan het. Dikwels het hulle net hulle tent opgeslaan en die kinders in die bed gesit, dan besluit die Here dis tyd om verder te trek. Die wolk gaan vooruit – en die volk moet agterna. Doodvermoeid.

Ek kan my goed voorstel hoe die Israeliete gekla het. Hulle kry nou wel elke dag 'n stukkie om te eet, maar waarom maak die Here dit vir hulle so moeilik om telkens verder te reis? Hulle kom net nie waar hulle moet wees nie. Wat was God se doel? Natuurlik het hulle niks hiervan begryp nie.

Vir ons is dit maklik om te praat. Ons sien hulle borduurwerkie nou van die bokant. Ons weet wat God se doel met sy volk was. Hy wou hulle na sy beloofde land bring. Tydens die lang reis wou God sien wie Hom waarlik vertrou en daarom die beloofde land waardig is.

Jy sal miskien sê dat die ou volk wel deeglik geweet het dat die Here die beste met hulle bedoel en hulle na die beloofde land wil lei. Hulle het dus eintlik nie rede gehad om te kla nie. Die reis het nou wel nie verloop soos hulle hulle voorgestel het nie, maar die doel was duidelik.

En ons? Ons as gelowiges in Jesus Christus weet mos ook waarheen God uiteindelik met ons op pad is.

Soms slaan God se wolk ook met ons ander rigtings in as wat ons wou gehad het. Maar ons kan daarop vertrou dat watter pad Hy ook al met ons lewe gaan, dit die enigste goeie weg is. Hy weet wat vir ons goed is. Vertrou daarop. Ons mag vra of die Here ons op 'n bepaalde pad sal neem, maar wanneer Hy juis die teenoorgestelde besluit, dan moet ons daarop vertrou dat sy pad die beste is.

Gebed: Leer my Here om op u insig te vertrou en my te lei op paaie waarop ek nie altyd dink ek wou gewees het nie. Dankie dat U die beste vir my wil. Amen