Ek hou van God, omdat Hy van my hou

Danny Fourie

God is liefde 1 Johannes 4:16

Jy kan miskien dink dat die titel van hierdie dagstuk effens ongelukkig gekies is: Ek hou van God omdat Hy van my hou! Dalk 'n vreemde redenasie? Nie so vreemd nie. 'n Mens hou tog nie van elke ou of meisie wat van jou hou nie. Net omdat iemand van jou hou, beteken nie dat jy 'n verhouding met daardie persoon sal aanknoop nie.

Daar is 'n wesenlike verskil tussen God wat van jou hou en 'n ou of meisie wat van jou hou. Hoeveel iemand ook al van jou hou, aan jou dink en oor jou fantaseer, gebeur dit nie dikwels dat hy of sy vir jou iets doen of vir jou iets beteken nie. Jy bly maar iemand in sy of haar gedagtes.

Met God se liefde vir ons is dit anders as 'n blote verliefdheid. God dink nie net voortdurend aan ons nie, Hy steek ook sy hande uit om iets vir ons te doen en te beteken. Die littekens van die spykers was na die opstanding van Jesus nog duidelik te sien.

Is dit nog so vreemd van my om van God te hou omdat Hy van my hou? Kom ons probeer vasstel hoe groot God se liefde vir ons is. Dit is veel dieper en intenser as die liefde wat mense vir mekaar het. Vermenigvuldig die liefde van verliefde tieners en die liefde van jong moeders vir hulle kleintjies met 'n duisend en steeds vergelyk sulke liefde in geen opsig met met die liefde wat God vir jou en my voel nie.

Die Bybel, God se liefdesbrief, roep dit op talle plekke uit. Hy hou van ons. Hy het ons lief. Wie ken nie die wêreldbekende teks in Johannes 3:16 nie? “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

In hierdie sin staan presies hoe lief God ons het. Hoe kan dit wees dat ek nie hierdie liefde beantwoord nie? God is my en jou Redder. Natuurlik hou ek daarom van Hom.

Gebed: Here, help my verstaan hoe lief U my het, hoe diep en hoe intens u liefde vir my is. Dankie. Amen.