Mims Turley

Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.  Jakobus 3:3-5a

Teen een van my kollegas se rekenaarskerm was daar vir jare 'n kaartjie waarop gestaan het: "Put your mind in gear before you put your mouth in motion." Elke keer wat ek dit raakgesien het, het dit my laat dink aan die gedeelte in Jakobus 3 wat oor die tong handel.

Jakobus weet dat woorde nie net klanke is wat by ons mond uitkom nie.  Woorde het krag en daarom waarsku hy ons om in beheer te wees van wat ons sê, want dan sal ons ook in beheer wees van ons aksies. Hy illustreer dit deur die beeld van die stang in 'n perd se bek en deur die roer waarmee die stuurman die skip kan stuur. Beide hierdie beelde het te make met rigting. Die tong en die woorde wat dit voortbring kan ook rigting aan ons lewens gee.

Die gebruik van woorde is 'n ernstige saak. In Spreuke 18:21 lees ons: "Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra." So kan ouers byvoorbeeld deur hulle woorde 'n kind opbou om 'n positiewe selfbeeld te hê, maar deur byvoorbeeld nooit vir 'n kind te sê dat jy hom liefhet of trots op hom is nie, kan die teenoorgestelde uitwerking hê.

Het dit al met jou gebeur dat jy nog besig is om 'n e-pos te skryf en dan klik jy per ongeluk op die stuurknoppie?  Weg is jou e-pos en jy kan dit nie stop nie.  Net so is dit soms wanneer ons praat voordat ons dink. Weg is die woorde en jy kan dit nie terugbring nie.  My ma het ons altyd as kinders gewaarsku dat ons mooi moet dink voordat ons praat "want," het sy gesê "woorde is soos voëltjies wat uit jou mond vlieg en jy kan hulle nie terugbring nie."

Jesus self waarsku ons ook dat ons versigtig moet wees wat ons sê.  “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”  Matteus 12:36-37

Maak vandag erns met jou woorde. Dink voordat jy praat. Onthou: "'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam." Spreuke 15:1

Gebed: Here, dankie dat U ons weer opnuut bewus maak van die krag van woorde. Help ons om ons woorde so te gebruik dat dit altyd tot eer van u Naam sal wees.