Xanthe Hancox

Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe. Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.  1 Tessalonisense 4:9-12

Vandag se teks is 'n baie praktiese gedeelte. Om mense in te lig dat hulle mekaar moet liefhê, pas in met dit wat ons sover in Tessalonisense gelees het, maar hoekom skryf Paulus op hierdie stadium van sy brief oor werk? Die meeste kommentators oor hierdie boek stem saam dat sommige gelowiges in Tessalonika so seker was dat Jesus enige oomblik weer sou kom, dat hulle heeltemal opgehou het om te werk. Hulle het almal ontwrig en voortdurend met ander se sake ingemeng. Daarom gee Paulus die Tessalonisense drie praktiese instruksies oor hoe om 'n gebalanseerde Christelike lewe te lei: lewe rustig, hou jou met jou eie sake besig en werk.

Jy dink dalk wat kon Paulus nou weet van ons pogings om in 2015 rustig te lewe, maar Tessalonika was 'n woelige, rumoerige stad, en die Christene van daardie tyd het hulle lewens net so gekompliseerd en besig gemaak as ons vandag. God het ons vir eenvoud en rustigheid gemaak, maar ons beleef selde enige stilte of rus in ons lewens.

Verder sê Paulus dat ons ons met ons eie sake moet besig hou. Ons moet mekaar liefhê en vir mekaar omgee, maar ons moet nie in ander se sake inmeng nie. Wanneer jy aanhoudend vir ander vertel hoe hulle moet werk en leef, is dit miskien tyd om terug te staan.

Die laaste instruksie wat Paulus hier aan die Tessalonisense gee, is om te werk en in hulle eie lewensonderhoud te voorsien. Hyself het as 'n tentmaker gewerk sodat hy in sy lewensbehoeftes kon voorsien terwyl hy die evangelie verkondig. Hoe ons werk is net so belangrik as hoe ons bid. Daar is nie 'n beter getuienis as 'n Christen werktuigkundige in die werkswinkel, of 'n Christen onderwyser in die klaskamer of 'n Christen rekenmeester in die firma nie.

Meeste van die tyd dwing ons nie die respek van nie-Christene af deur te kere te gaan nie. Dit is wanneer ons as Christene kan bewys dat ons geloof ons beter werknemers, beter vriende en beter bure maak, of wanneer dit duidelik is dat ons mans en vrouens is wat werklik omgee ‑ dat ons werklik die evangelie preek.

Gebed: Here Jesus om 'n rustige, gebalanseerde lewe te leef, is dikwels die moeilikste ding om te doen. Help my om te streef na 'n lewe wat nie so besig is dat mense nie vir U in my kan raaksien nie. Amen