Xanthe Hancox

God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.  1 Tessalonisense 4:7-8

Ek dink ons is dikwels in die versoeking om die Bybel as 'n selfhelpgids te gebruik. Ons gebruik die dele waarvan ons hou en ignoreer die wat ons ongemaklik laat voel. Die woorde in die Bybel is nie maar net voorstelle of woorde wat raad gee nie. Deur sy Woord openbaar God aan ons hoe Hy verwag ons moet leef. Wanneer Paulus instruksies aan die Tessalonisense oordra, is dit wat hulle hoor volgens die wil van God.  Hierdie instruksies bevat God se woord en sy wil.

Wanneer God dus sê dat Hy ons geroep het om heilig te leef, praat Hy nie net met 'n groep Christene wat byna 2 000 jaar gelede geleef het nie, Hy praat met ons.

Die opdrag om heilig te leef, is maklik om te ignoreer in 'n wêreld wat volgens ander standaarde leef. Ons vergelyk ons lewens dikwels met die van mense in ons gemeenskap en besluit dan dat ons darem nie so sleg is nie. Ons kan onsself maklik wysmaak dat ons sonde darem nie so erg is nie. Deur die Heilige Gees se stemwat ons roep om heilig te leef, te ignoreer of af te water, verwerp jy God. Kom ons maak erns met heiligheid in ons lewens.

God het ons nie geroep om onsedelik te leef nie, maar heilig, heilig soos Hy heilig is. En dit beteken dat ons elke liewe dag bewustelik daaraan moet werk om die sonde in ons lewens af te lê, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.

Wat is dit wat jou vandag gaan pootjie wanneer jy probeer om meer en meer soos Jesus te wees? Watter versoekings is daar in jou lewe? Wees bewus van hierdie versoekings en vermy dit. Maak erns met jou roeping om heilig te lewe.

Gebed: Here, vergewe my die kere wat ek probeer om die belangrikheid van my sondes af te water. Gebruik u Heilige Gees om 'n passie om heilig te lewe in my aan te wakker en skenk aan my die krag om tot u eer te lewe. Dankie vir alles wat U gedoen het om my van sonde te red. Amen