Stephan Hoffman

 

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.1 Johannes 3:1

Lees gerus die hele hoofstuk, 1 Johannes 3:1-24

Kinders van God. Besef jy wat hierdie woorde beteken? Dat jy God se kind is. Dalk kan ons iets van die liefde wat God vir ons het verstaan as ons aan ons verhouding met ons eie kinders dink? Het jy al daardie babatjie in jou arms gehou en gevoel dat jy alles sal opoffer om daardie kind te beskerm en te versorg en net die beste vir hom of haar te gee? Dit is hoe God oor jou dink en voel!

Liefdeloosheid en sonde pas nie meer by jou nie. Jy het nou ‘n Hemelse Vader wat jou liefhet deur Jesus Christus en jou lei en vertroos deur die Heilige Gees. Jy kan nie aanhou om sonde te doen nie, want sonde is gebou op selfsug en iemand wat soveel liefde soos jy ontvang het, kan nie meer aanhou om selfsugtig te lewe nie. Nee, ek en jy behoort die liefde waarmee God ons omarm en versorg uit te deel in die wêreld!

Natuurlik gaan dit nie altyd maklik wees nie en natuurlik gaan die wêreld nie altyd die liefde en opoffering wat jy maak waardeer nie. Die mensdom het immers vir Jesus wat net liefde betoon het, met haat en nyd behandel en Hom selfs doodgemaak. Gelukkig het Hy die dood oorwin sodat ons ook nou ‘n nuwe lewe kan hê. Ja, ons het ‘n ander tipe lewe ontvang, ‘n ewige lewe wat ons selfs bereid maak om alles in hierdie aardse bestaan op te offer vir mekaar.

Liefde is nie net ‘n leë begrip nie, liefde word gedoen, gepraat, gelewe. Ware liefde spruit nie uit ons self nie, maar God se Gees stel ons in staat om ander mense lief te hê sonder dat hulle dit verdien of ons iets terug ontvang.

Kom ons vra die Here om weer opnuut sy liefde in ons harte uit te stort, sodat ons as sy kinders kan lewe. Kom ons gaan leef so dat mense iets van die nuwe lewe in ons kan raaksien. Ons kan vreesloos lewe met hierdie wete dat ons met vrymoedigheid na God toe kan gaan deur Jesus Christus ons verlosser!

Gebed: Abba, Vader, dankie dat U my aangeneem het as u eie kindjie deur Jesus Christus. Dankie Heer dat ek aan U behoort en dat U my oneindig liefhet sonder dat ek dit verdien. Help my om as ‘n nuwe mens te lewe sodat ek ook bereid sal wees om my lewe op te offer vir ander.  Amen