Stephan Hoffman

Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.1 Johannes 2:1-2

Lees gerus die hele hoofstuk, 1 Johannes 2:1-29

Die intieme band tussen Johannes en die eerste lesers van die brief is duidelik uit die manier waarop hy hulle aanspreek as sy kinders, letterlik klein kindertjies of kleintjies. Johannes waarsku hulle op ‘n vriendelike manier om nie te sondig nie, maar troos ook dat Jesus Christus as ons advokaat of voorspraak optree indien ons sou struikel. Net soos die offer in die Ou Testament versoening bewerk het, so het Jesus volkome versoening met die Vader bewerk.

Johannes beklemtoon weereens dat die ware geloof nie sonder gehoorsaamheid kan bestaan nie. Dit wat ons sê en dit wat ons doen moet ooreenstem. As ons sê dat ons God se genade deur Jesus ken, moet ons ook dankbaar reageer, deur met dieselfde liefde te probeer lewe as wat God aan ons bewys het.

Hoe kan ons, ons dankbaarheid teenoor God betoon? Deur ons broers en susters, mekaar en ander mense lief te hê!

Johannes gebruik die metafoor van lig en donker om iets van die wonder te beklemtoon dat God ons gered het en ons help om anders na die lewe te kyk. Ons sien meer as die aardse wêreld met jy gebrokenheid, lyding en beproewing, ons sien die ewige lewe want ons ken die bron van lig en lewe en ons verhouding met die ewige God is herstel deur Jesus Christus.

Hierdie waarheid kan jy net ontdek as God dit aan jou geopenbaar het. Jesus Christus het iets van God se liefde vir ons kom wys. Ons leef nie meer in die duister nie, ons is nie meer blind vir die goedheid van God nie. Ons is nuut gebore en ons bly in Christus. Ek en jy kan met oë van geloof na die lewe kyk en getuig van God se teenwoordigheid, liefde en versorging.

Wil jy nie vandag kyk of jy iemand sien wat dalk nog blind rondtas na hoop, lig, liefde en lewe nie? Gaan vertel daardie persoon van die genade wat ons ontvang het en gaan bewys (doen) liefde aan hom of haar soos wat aan jou bewys is!

Gebed: Here, baie dankie dat U my nie oorgelaat het aan myself nie. Dankie dat ek iets van u liefde en lig kan beleef in my eie lewe en in my eie hart deur die werking van u Heilige Gees. Help my asseblief om ook met dankbaarheid u liefde ook aan ander te bewys.  Amen