Stephan Hoffman

God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.  Filippense 1:8-11

Die gemeente in Filippi lê Paulus na aan die hart, ons het in die vorige gedeelte gehoor dat hy hulle in sy hart hou. Paulus het groot waardering vir die gesindheid en liefde wat hierdie gemeente teenoor hom en die Here Jesus Christus openbaar het. Ons hoor iets van hierdie intieme verhouding as Paulus sê dat hy met die innige toegeneentheid van Christus Jesus na hulle almal verlang.

Hy bid ook dat hulle liefde nog meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling. Begrip en fyn aanvoeling is skaars eienskappe in vandag se wêreld. Ons hoor ook nie baie dat hierdie terme met die oppervlakkige betekenis van dit wat die wêreld liefde noem geassosieer word nie. Wie van ons het nie ‘n behoefte dat iemand ons met begrip en fyn aanvoeling sal hanteer nie? Wanneer laas het jy na iemand anders geluister met begrip? Wanneer laas het jy met fyn aanvoeling jou liefde teenoor jou naastes uitgeleef?

Hierdie begrip en fyn aanvoeling vra egter ook daaroor dat ons die vermoë sal ontwikkel om te onderskei “wat werklik saak maak” of wat werklik belangrik is. Ons mors soveel kosbare tyd en energie met dinge wat werklik nie belangrik is of saak maak nie. Wil jy nie vandag probeer om met fyn aanvoeling te onderskei wat werklik saak maak en om daarop te probeer fokus nie? Hierdie manier van lief hê is die “vrug van geregtigheid” wat jou hele lewe kan vul.

Mag God gee dat hierdie vrug van ware liefde en geregtigheid ons lewe so sal vul, dat Hy daardeur verheerlik sal word!

Gebed:  Liewe Here, ek dank U vir die verhouding wat deur Jesus Christus tussen U en my bestaan. Baie dankie dat ek iets van u groot liefde kan begryp en kan ervaar. Help my om ook te groei in my liefde teenoor ander. Gee my asseblief deur die werking van u Heilige Gees meer begrip en fyn aanvoeling. Help my asseblief om die tyd wat U my gun te spandeer aan dit wat regtig saak maak en tot u eer te lewe.  Amen