Neville Turley

Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Psalm 62:6

"As," se Paulus "ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense." Paulus praat hier met die Korintiërs oor die opstanding. (1 Korintiërs 15) Sommige van hulle het beweer dat die dooies nie uit die dood opgewek sou word nie.

Indien dit waar is, word ons as Christene werklik mislei. Wanneer jy jou lewe aan Christus oorgee, neem jy 'n besluit om 'n lewe tot eer van God te ly. Indien daar niks na die dood is nie, geen huis om na toe te gaan nie, geen God wat ons verwelkom nie, dan is Christene werklik verlore en bejammerenswaardig. Maar dit is nie die geval nie.

In die tyd van die Ou Testament tot en met die vernietiging van die tempel in Jerusalem, het die hoëpriester tydens Jom Kippoer, die Groot Versoendag, 'n spesiale ritueel uitgevoer.  Ons lees daarvan in Levitikus 16.

Hy het twee bokke geneem na die plek van die verbondsark. Deur 'n lot te werp is die een bok gekies om as offerhande vir die Here te offer. Die bloed van hierdie bok is dan op die verbondsark agter die voorhangsel gesprinkel.

Die ander bok– die sondebok – is vir Asasel.  Nadat die hoëpriester die sondes van Israel voor God bely het, plaas hy die sondes figuurlik op die kop van hierdie bok. Die bok word dan die wildernis ingejaag om daar om te kom.

Die bloed van die bok wat vir die Here geoffer is, bring versoening vir die sondes van die Israeliete en die bok vir Asasel neem die sondes weg.

Jesus Christus, ons Hoëpriester, die Lam van God, het deur sy dood aan die kruis en deur sy bloed vir ons sondes betaal en ons met God versoen.

Paulus laat geen twyfel oor die opstanding by die Korintiërs nie. "Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word." 1 Korintiërs 15:20,22

Die waarborg is geldig vir almal wat in Christus sterf. Deur die dood sal ons die heerlikheid betree.  Halleluja! Wat 'n wonderlike Verlosser!

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u Seun ons verlos het. Gee aan ons, deur u Heilige Gees, die krag om U te verheerlik. Dit bid ons in die Naam van Jesus Christus.  Amen