Neville Turley

Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.  Efesiers 4:31

Niks jaag 'n mens se stresvlakke hoër as wanneer jy besef jy word nie met respek behandel nie en 'n persoon of persone probeer voortdurend om jou te verkleineer.

Mense reageer egter verskillend in so 'n geval. Sommige reageer onmiddellik woedend, dikwels tot hulle eie nadeel. Ander weer, omdat hulle bang is vir die gevolge, laat toe dat daar op hulle getrap word. Wat ook al die aanvanklike reaksie, slagoffers van sulke emosionele trauma kan vir die res van hulle lewens daardeur benadeel word.

In die speurverhaal, “A Study in Scarlet” deur Arthur Conan Doyle, sê Sherlock Holmes: “I consider that a man’s brain originally, is like an attic. You have to stock it with such furniture as you choose.” Die mediese wetenskap mag hiervan verskil, maar ek dink die vergelyking is nogal goed.

Wat ons dink beïnvloed ons aksies. Dit is dus noodsaaklik dat ons gereeld ons eie gedrag ondersoek en ontslae raak van alle negatiewe gedagtes wat ons as Christene kan verhinder om reg op te tree.

Luister wat sê Paulus in sy brief aan die Kolossense: "Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind." Kolossense 3:12-14

Johannes skryf oor 'n baie stresvolle tyd in Jesus se lewe.  Hy staar die dood in die gesig. Judas is op die punt om Hom te verraai. Die vernedering en die lyding aan die kruis wag op Hom. Wat sê Jesus vir sy dissipels? "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My." Johannes 14:1

Dit is net wanneer die volle boodskap van Christus in ons harte en gedagtes leef, dat die stres sal verdwyn en ons ware vrede sal ken.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u liefde en vir die hoop in U. Gee dat ons elke dag nader aan U en ook an mekaar sal kom. In Jesus se Naam. Amen