Neville Turley

Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete. Matteus 7:12

In alle Christelike lande en in sommige sekulêre lande is die dag na Kersfees 'n openbare vakansiedag. In baie Engelssprekende lande staand dit bekend as "Boxing day". Daar is verskillende menings oor waar die naam vandaan kom.

Sommige mense glo dit dateer uit die Viktoriaanse tyd. In daardie tyd was dit die gebruik dat bediendes in die groot huishoudings op Kersdag gewerk het en dan het hulle die dag daarna 'n dag afgekry.  Die oorskietkos van die vorige dag is dan in bokse geplaas en aan hulle gegee om met hulle gesinne te deel. Vakmanne het ook die dag na Kersfees by hulle kliënte se huise besoek afgelê waar hulle 'n geskenk ontvang het uit dankbaarheid vir die dienste wat hulle gedurende die jaar gelewer het.

Ander glo weer dat die tradisie sover teruggaan is die Romeinse tyd toe toeskouers by Romeinse Spele geld in bokse geplaas het om hulle waardering vir die atlete te bewys. Die geld is dan onder die atlete verdeel.

Toe die Romeine Brittanje ingeval het, het hulle die gebruik van die kollektebokse saamgebring.  Die predikante in Brittanje het die gebruik oorgeneem en bokse is in kerke geplaas om geld in te samel vir die armes in die gemeente. Die dag na Kersfees is die bokse oopgemaak en die inhoud onder die behoeftiges verdeel.

Of dit nou Viktoriaanse bokse, Romeinse bokse of bokse vir die armes was, almal het een ding in gemeen gehad. Almal was tekens van dankbaarheid wat mense aan ander wou bewys.

Tekens van dankbaarheid hoef ook nie altyd uit geld te bestaan nie. In 1994 is die naam van die openbare vakansiedag op 26 Desember in Suid-Afrika verander na Welwillendheidsdag.  Miskien is dit tyd om vas te stel hoe ons die nuwe naam van die dag gestand doen.

Ons Here Jesus Christus het ons geleer hoe om dit te doen. "Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete." (Matteus 7:12)

Jesus het ons geleer om volgens hierdie goue reël te leef. Na meer as 2 000 jaar het hierdie reël nog nie sy waarde verloor nie, en dit sal nooit nie meer geld nie.

Gebed: Hemelse Vader help my om hierdie goue reël in my gedrag teenoor ander uit te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen