Neville Turley

Here, U is my God! Ek wil U prys en u Naam loof! U het wonders gedoen; dinge wat U lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer.   Jesaja 25:1

Met die voordeel van nakennis kan ons terugkyk op die geboorte van Christus en God loof in die woorde van Jesaja 25:1.

God se plan om die skepping te herstel deur die Christus wat sou kom, het waar geword. (Genesis 3:15) 'n Nuwe tydperk het aangebreek. Hemel en aarde was gevul met blydskap toe Christus gebore is. Sy sending hier op aarde en die lyding waaroor die profete geprofeteer het, het op Hom gewag, maar sy geboorte was 'n tyd van blydskap.

Josef en Maria het, soos die Joodse wette verlang, Jesus na die tempel in Jerusalem geneem om Hom aan God te wy. (Eksodus 13:2) Daar by die tempel het hulle 'n godvresende man, Simeon, ontmoet. Simeon is deur die Heilige Gees verseker dat hy nie sal sterf voordat hy die Messias gesien het nie. Regdeur sy lang lewe het hy gewag vir hierdie belofte om vervul te word. Toe Jesus se ouers Hom die tempel indra het Simeon, gelei deur die Gees, die kindjie Jesus in sy armes geneem en God gedank: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: 'n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.”  (Lukas 2:29-32)

Sy ontmoeting met die Messias was die hoogtepunt van Simeon sel lewe. Sy lang wag was verby en hy het vrede gehad.

'n Ontmoeting met Jesus is die hoogtepunt van enige mense se lewe. Dit is 'n geleentheid wanneer jy 'n besluit moet neem.  Wanneer Jesus jou roep en jy, gelei deur die Heilige Gees, besluit om Hom te volg, sal Hy jou red en jy sal vrede in jou siel hê. Dit is die rede hoekom Christene Kersfees met soveel blydskap kan vier.

Gebed: Almagtige God, dankie vir u woord. Gee dat die Heilige Gees my sal lei om die leringe van u woord in my lewe toe te pas sodat ek U deur Jesus Christus kan verheerlik. Amen