Danny Fourie

… maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God … sal oor julle harte en gedagtes die wag hou. Filippense 4:6,7

Bid jy nog? Wat dink jy van gebed?

'n Mens kan nooit te veel bid nie – net te min. Gebed, word dikwels gesê, is soos om asem te haal, as jy daarmee ophou dan leef jy nie veel langer nie. Gebed is om met God te praat. Deur te bid wys jy dat jy die Here nodig het en daardeur eer jy Hom. Jy kom ook agter dat jy nie alleen is nie – jy praat met die Skepper van hemel en aarde!

Gebed is nie net om te vra nie. Gebed is ook om te dank en skuld te bely, om oor alles wat in jou hart leef met God te praat. Niemand wat bid, sal kan sê dat dit tevergeefs is nie. God sal nooit sê dat Hy nie nou tyd vir jou het nie. Hy is altyd daar. (Matteus 28:20)

Die vraag is altyd, help dit om te bid? As die vraag bedoel: Gebeur alles soos wat ek dit vra, dan moet 'n mens sê: Nee, nie altyd nie. Daar is gebede wat nie verhoor word nie. Soms bid ons vir mense wat siek is, en dan sterf hulle tog sonder om genees te word. Daar is dan 'n teleurstelling by ons. (2 Korintiërs 12:7-9)

Ons lewe saam met God is nie soos 'n soetsappige roman wat altyd 'n goeie einde het nie. Die rede is omdat daar meer as 'n aardse lewe is. Ons glo dat daar lewe na lewe is. Dikwels gee die Here nie 'n uitkoms wat ons begeer nie, maar Hy gee die krag om die uitkoms te aanvaar. (Psalm 138:3)

Intussen troos Paulus ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God … sal oor julle harte en gedagtes die wag hou.” (Filippense 4:6,7)

Gebed: Dankie Vader dat ek die vrymoedigheid het om my hart en behoeftes met U te deel. Dankie dat U my gebede ernstig neem en na my luister. Amen