Danny Fourie

 

Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet … hy sal gelukkig wees.  Jakobus 1:25

Die Bybel is 'n besondere boek wat oor 'n tydperk van 1 500 jaar ontstaan het. Dit is deur ongeveer 40 mense uit alle moontlike leefwêrelde en tydperke geskryf. Die Bybel is 'n wonderlike eenheid. Van Genesis tot by Openbaring gaan dit oor een tema: God hou van mense en wil 'n verhouding met hulle hê.

Die feit dat die Bybel deur mense geskryf is, bots nie met die getuienis dat die Bybel die Woord van God is nie. Die Bybelskrywers is deur God in diens geneem om sy Woord op te skryf. Anders gestel: die menslike skrywers van die Bybel is deur die Heilige Gees gelei om neer te skryf wat God vir ons wil sê.

Waag dit om die Bybel op te tel en te lees. Dit sal tot jou spreek. Jy sal God met jou hoor praat. As jy nie baie ervaring van Bybellees het nie, begin dan met die Evangelies van Markus en Johannes. En lees dan Genesis. Hou aan om elke dag 'n stuk te lees. As jy dit biddend doen, sal jy ervaar dat dít wat jy lees met jou praat. Stadigaan sal jy ontdek dat die Bybel waarlik die Woord van God is.

Lees die Bybel met 'n openheid – moenie lees asof jy reeds alles weet nie. Die jong Samuel het so treffend gesê: “Praat, Here, u dienaar luister!” Ek wil asof vir die eerste keer hoor wat U sê. Lees die Bybel met ’n verwagting – sien daarna uit dat God met jou sal praat. Maar lees ook met ’n gehoorsame houding. Mense wat hulle in die Bybel verdiep, sal gelukkig wees in wat hulle doen, skryf Jakobus.

Die Bybel is nie geskryf om ons kennis te vermeerder nie – seker ook wel – maar veral om ons lewe te verander.

Gebed: Dankie Here dat u Woord so naby my is, so toeganklik is. Help my om daagliks die Bybel te lees en U daarin te ontdek. Amen