Danny Fourie

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe … kan ons van die liefde van God skei nie … Romeine 8:38-39

Soms dink ons omdat ons in God glo, sal ons die swaar en seer in die lewe vryspring. Julle ken God, en tog is daar moeilike tye in julle huwelik. Jy het gebid oor watter werk jy moet aanvaar, en nou is daar tog spanning by die werk.

Dit is soos die keer toe Jesus sy dissipels genooi het om saam met Hom in 'n skuit na die oorkant van 'n meer te vaar. Daar kom toe 'n storm en die dissipels roep beangs dat hulle gaan verdrink. Jesus het hulle kwalik geneem dat hulle bang was: “Waar was julle geloof?” Hy het hulle genooi en Hy sou mos sorg dat hulle veilig by die oorkant kom. Jesus was die waarborg dat hulle veilig sou wees. Daarna het Jesus toe die storm stilgemaak.

Dit moet ons ook van die lewe verwag. Daar sal altyd storms wees, al klim 'n mens ook saam met Jesus in die skuit. Ons moet twee dinge onthou. Die magte van die kwaad, van siekte, van sonde en dood is sterk. Hierdie magte kruis dikwels ons paaie. Maar die tweede ding wat ons moet weet, is dat die mag van Jesus altyd groter is. Hy gebruik sy mag om ons deur hoogtes en dieptes te lei.

Dikwels is die angs en vrees vir ons omstandighede so groot, dat ons vergeet dat Jesus se mag groter is. Geloof is om Jesus te vertrou dat Hy vir jou sal sorg. Geloof is om te kan sê: My lewe is in God se hande. Geloof is om te vertrou dat Jesus daar is en sy planne met jou lewe sal deurvoer.

Dit het Jesus beloof: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Matteus 28:20

Gebed: Help my Here Jesus om U met my lewe te vertrou. Dankie dat U daar is vir my en na my sal omsien. Amen.