Danny Fourie

Die jongste seun het vir sy pa gesê: “Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.”  Lukas 15:12

Die gelykenis van die verlore seun bly aangrypend: Die seun wat moeg geword het vir die boerdery, sy erfdeel gevat, weggeloop en uiteindelik in 'n varkhok beland het.

Die seun se pa het hom nie teruggehou nie. Hy het hom laat gaan. God doen dit ook met ons. As ons nie meer by God wil bly nie, laat Hy ons gaan. Natuurlik wil Hy nie hê dat ons moet gaan nie. Hy gee ons ook ons erfdeel saam: ons oë, ore, hande, verstand, alles wat God by ons geboorte aan ons gegee het. Daarmee mag jy dan doen wat jy wil.

En hoe lyk so 'n lewe sonder God, sonder kerk, sonder geloof en sonder 'n Bybel? Het so 'n lewe betekenis? Die seun in die gelykenis het sy lewe geniet. Maar hy het iets gemis. Hy het nie 'n vriend gehad nie, 'n ware Vriend. Toe sy geld op en die partytjies verby was, het hy niemand gehad nie. Al geselskap wat hy toe gehad het, was die varke. En hy was jaloers op die varke, want hulle het ten minste iets gehad om te eet.

Toe besef hy dat sy pa eintlik sy Vriend was. Dit het tot hom deurgedring dat sy Pa nie 'n baas is nie. Daar was reëls by sy Pa se huis, maar sy Pa het vir hom omgegee. Hy het gesien dat hy 'n fout gemaak het en het besluit om terug te gaan. Wat 'n dapper besluit.

Sou sy Pa hom terugneem, het hy gewonder? Ja, het hy gedink, want my Pa is mos my Vriend. En dit was ook so. Die Pa het hom ingewag en sy arms om hom geslaan toe hy by die huis kom.

Gebed: Dankie hemelse Vader dat ek u kind is. Dankie dat ek by U tuis is. En dat U my liefhet en vir my omgee. Amen.