Carina Francke

Maak my 'n voorbeeld van u goedheid, sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien, dat U, Here, my help en uitkoms gee.  Psalm 86:17

Ons het gister gesels oor gebed wat die tou van hoop is wat ons  in kontak hou met God en wat krag genereer sodat ons kan leef soos God dit verlang. Gebed is egter ook die rou, naakte  erkenning van ons onvermoë om ons self te verander, maar is terselfdertyd ook 'n verklaring van ons afhanklikheid van sy vermoë as ons vra: "Here, maak my..."

Dawid kry swaar onder mense wat hom sleg behandel, hom aanval en selfs wil doodmaak, daarom  begin sy gebed in Psalm 86 met die woorde: "Luister tog na my, Here, verhoor my gebed, want Ek is hulpeloos en arm (1983). In die versoeke wat daarop volg, is dit duidelik dat hy beskerming, redding, genade, vergifnis en blydskap van God in sy lewe nodig het (v1-5). Hy laat egter nie na om te midde van hierdie neerdrukkende omstandighede, God se vermoë en grootheid te besing nie en dit motiveer hom uiteindelik tot so 'n mate, dat hy vra: "....gee U my tog krag en red my. Maak my 'n voorbeeld van U goedheid..." (Psalm 86:16,17).Hy vra eintlik vir God 'n teken, 'n wonderwerk in sy lewe sodat die vyand se mond gesnoer kan word as hulle sien wat God vir mense kan doen. Hy wil trouens sélf dié voorbeeld wees.

Daar is nog iemand wat met 'n soortgelyke versoek gekom het. 'n Arrogante jongman eis dat sy pa sy erporsie voortydig vir hom gee, hy verkwis daarna die hele erfporsie en beland pennieloos in die grootste ellende. Met 'n diep bewustheid van sy sonde teenoor sy pa en die hemel, neem hy 'n besluit om na sy vader terug te gaan en hom te vra: "Maak my soos een van u huurlinge" (Matteus 15:19).

Soms is ander mense die oorsaak van ons ellende – soos in Dawid se geval – maar meer dikwels is dit ons eie verkeerde keuses en foute wat ons op rotsagtige paaie laat loop -  soos die seun wat sy erfporsie verkwis. Albei van hulle het egter die "Maak my...."- gebed vanuit opregte bedoelings en 'n berouvolle hart gebid, en albei se gebede is verhoor. Die wonder van hierdie twee verhale is dat 'n liefdevolle vader aan die ander kant gestaan en wag het vir sy kind, gereed om hom tegemoet te hardloop, met oop arms te ontvang en te seën.

Jou Vader en vader wag ook vir jou.

Gebed: My liefdevolle Vader, ek wil vandag soos Joseph Neesima bid: "O Here, hervorm die wêreld.....en begin by my."  Maak my daagliks bewus van dié dinge wat verhinder dat U teenwoordigheid sigbaar kan word in my lewe. Maak my u hande en voete in my leefwêreld, sodat u vyande kan sien dat U aan mense uitkoms gee.  Maak my talente en gawes 'n teken van u goedheid sodat mense kan erken dat daar geen God soos U is nie. Amen