Carina Francke

Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.  Jakobus 5:16

Gebed is die tou van hoop wat 'n nietige mens in kontak hou met die groot God. Met daardie verbindingstou bid ons in, en mét hoop vir onsself, vir geliefdes, medegelowiges en ongelowiges. Gebed is egter meer as net die noodroep om behoeftes vervul te kry, dit is ook die hooptou wat krag genereer sodat ek deur die Heilige Gees al hoe meer kan leef soos God verlang. Gebed is daarom 'n tweerigting-gesprek tussen God en mens waar ek daagliks ook met 'n toe mond en oop ore, afwagtend sal wees dat wanneer ek die Woord lees, die Heilige Gees God se wil vir my daarin sal openbaar.

Hoor wat sê die Woord reeds vir ons oor God se wil. As gelowiges en beelddraers van God in die wêreld, moet ons tot eer van die Here leef deur net te doen wat Hy verlang. Ons kan weet wat Hy verlang deur te bid en te vra dat ons "vervul mag word met die volle kennis van God se wil deur al die wysheid en insig wat die Gees gee" (Kolossense 1:9 Direkte Vertaling).Dit beteken dat ons deur die Gees sal leef (Galasiërs 5:16) en Hom toelaat om ons te lei.Kennis van sy wil moet egter hand aan hand loop met die groei in kennis van God (Kolossense 1:10) – die ontdekking van sy hart, sy onvergelykbare grootheid.

So 'n lewe bied uitdagings aan elke gelowige. Dit vra 'n God-gefokusde lewe en volharding. Moeilik? Nie as ons vra dat God deur sy "wonderbare krag (ons) alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard" (Kolossense 1:11) nie.

Jesus se prediking en lering oor die Christusgelowige se leefwyse, sentreer om liefde. Daarsonder is ons niks (1 Korintiërs 13), ken ons God nie (1 Johannes 4:8) en bly God nie in ons nie (1 Johannes 4:12). Elke  gelowige kan egter seker wees dat die liefde van God in sy hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan Hom gegee is (Romeine 5:5). Ons dra egter die verantwoordelikheid om daardie "saad" van liefde te bewerk, en een manier waarop ons dit kan doen, is om te bid dat ons liefde meer en meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons in staat kan wees om die dinge wat saak maak, te onderskei (Filippense.1:9). Waarom is die onderskeiding nodig? Sodat ons op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam kan wees (Filippense 1:10).

Gebed het groot krag en beskik oor die vermoë om ons lewens, ons omstandighede en uitkyk op die lewe te verander, want God is die Hoorder van elke gebed. In die woorde van RA Torrey: "Gebed is die sleutel wat die skatkamers van God se oneindige genade en krag ontsluit.  Alles wat God is en alles wat God het, is tot beskikking van gebed."

Gebed: My Vader, ek wil dat U met my lewe tevrede wees, daarom swaai ek vandag aan daardie verbindingstou van gebed om te vra: Vervul my met Uself. Amen.