Carina Francke

 

"En beproef wat die Here welbehaaglik is" (1933/1953-vertaling). "Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is.  Efesiërs 5:10 (1983-vertaling)

In die literatuur, kunste, die mens se leefwêreld en selfs die natuur, word lig en duisternis meestal as teenoorgesteldes uitgebeeld. Kan jy jou indink om jou lewe lank in 'n ondergrondse kerker opgesluit te wees en nooit lig te sien nie? Aaklig! Neerdrukkend! 'n Doodsvonnis wat jou lewe lank neem om voltrek te word! Nie God se wil vir enige mens nie! Hy wil dat die luik oopgemaak word sodat die lig die donkerte laat versplinter tot niks.

Dit is geen wonder nie dat ons regdeur die Bybel aangepraat word oor wat die impak van die Lig, Jesus Christus, op ons lewens behoort te hê. As Christus-gelowige is jy 'n mens van die lig en dit vra dat jou leefstyl moet bevestig wat jy oor jou geloof bely. Dit moet nuut, anders, sonder elemente van die nag geleef word. DÍt is die wil van God vir elke gelowige se lewe.

Om te weet wat die dinge in ons lewens is wat deur lig versplinter moet word, moet ons: ".. beproef wat die Here welbehaaglik is" (Efesiërs 5:10;1933/1953-vertaling),of anders gestel: "Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is" (1983-vertaling). Om dit te ontdek, beteken selfondersoek, 'n eerlike inskyn van die waarheid in ons harte om die donker kolle te verlig en dan die gewilligheid om, ongeag hoe ongemaklik dit vir ons is, die donker dinge deur lig te laat versmelt, want God se wil vir jou en my lewe is om te leef in die lig.

Paulus help ons in Romeine 12:1-2 om te ontdek wat sy wil is as Hy 'n ernstige beroep op ons doen: Gee jouself weg aan God. Offer jou liggaam aan Hom. Wat eintlik bedoel word, is dat jou self, jou eie-ek moet doodgaan. Dit is 'n moeilike dood, maar nie 'n hooplose een nie, want in sy hande word jy lewend, heilig en aanvaarbaar vir Hom, maar terselfdertyd ook diensbaar aan ander.

Moenie dink en leef soos die wêreld nie, moenie in die gees van jou denke wees soos hulle nie.

Dink nuut, anders, en buite jou ommuurde kassie wat jou gedagtes in 'n tronk vasvang. Hiervoor het jy hulp nodig – laat toe dat die die Woord in jou hart vastrapplek kry en laat dié jou gedagtes vernuwe (Jakobus 1:21).

En die resultaat? Lig wat jou help om te onderskei wat die wil van God is – daardie dinge wat goed, aanneemlik en volmaak is.

Gebed: My Vader, in 'n donker, volgepropte wêreld, beproef en vra ek gereeld wat vir U aanneemlik is in hoe ek my lewe leef, maar ek sukkel werklik om vir seker te weet. My versoek is daarom dat U die Woord wat ek lees, in my hart sal plant en dit lewend maak. Amen.