Carina Francke

 

Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ander te vergelyk. Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het. Galasiërs 6:4,5

In 'n prestasiegedrewe samelewing word mense se werksvermoë met mekaar vergelyk en word jou waarde as mens en as "kommoditeit" dikwels hieraan gemeet. Dit is onvermydelik dat ons hierdeur beïnvloed word: ons kyk vanuit ander se oë na onsself en meet ons doen en late aan hoe dit teenoor ander s'n opweeg. Nodeloos om te sê, ons kom gou agter dat daar altyd mense is wat beter of slegter as ons vaar en dié besef ontlok dikwels gevoelens van óf meerderwaardigheid, óf minderwaardigheid.

En tog is dit uit ons vers vir vandag so voor die handliggend wat jou en my gesindheid rondom ons werke behoort te wees: ons moet ons eie werke (nie ander s'n nie) ondersoek, beoordeel, dit toets, of anders gestel, met 'n vergrootglas daarna kyk. Jy sien, dikwels is daar bymotiewe agter ons werksywer - ons wil mense daarmee beïndruk, óns wil aansien onder mense hê, ons doen dinge uit naywer, of ons wil bloot sommer net met onsself spog. Die enigste maatstaf vir jou doen en late is dat dit goed moet wees. Volgens Kolossense 3:23 is die maatstaf vir "goed", die Here se standaard: "En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie."  Gemeet hieraan, sonder om jou werk te vergelyk met dié van 'n ander, mag jy dan maar gerus trots wees wat op jy gedoen het.

Jy sien, die uiteinde van hierdie vergrootglas strategie, is dat ons sonder skaamte of verleentheid in die Here se teenwoordigheid kan kom wanneer ons moet rekenskap gee oor wat ons  gedoen het. En rekenskap gaan Hy voorwaar eis:"Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: 'So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor my sal elke knie buig, en elke tong bely.' So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee" (Romeine 14:10-12).

In die lig van hierdie vers, kan ons ontspan wanneer ons werk of goeie dade verrig. God meet ons nie aan menslike standaarde nie, ook nie aan ons eie standaarde nie, maar aan Syne, en dit is nooit bo ons vermoëns nie. Daarom, neem 'n besluit om alles wat jy aanpak, te doen vir Hom en sy goedkeuring.

Gebed: Dankie Vader dat ek met die hulp van die Heilige Gees altyd my werke kan toets aan die standaarde wat U vir my gestel het. Amen.