Carina Francke

O my God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd." Psalm 145:1,2

Boom en blom jubel stemloos die varsheid en splinternuutheid van die lenteseisoen uit.  Dit spreek van lewe en hoop en herinner aan God se belofte dat Hy vir altyd betrokke by sy skepping sal wees.  Dit opsigself is rede genoeg om Hom te loof en prys, maar so dikwels word ons energie en lewens opgeslurp deur die deurmekaar, wanordelike en stukkende wêreld waarin ons leef, dat ons selde 'n gedagte daaraan skenk om lof aan Hom te bring. 

Lof aan God gebeur nie vanself nie, dit vra meer dikwels 'n bewustelike, aktiewe besluit van die mens se kant. In Psalm 42:6 praat die skrywer met homself: "Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof"  In die Pelgrimslied roep die skrywer almal wat die Here dien, tot lof op: "Kom prys die Here, julle almal wat Hom dien; hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here!"(Psalm 134:1,2)

Wanneer die Psalmis sy ouer-word bedink, beloof hy sy voortdurende lof aan God: "Ek, ek sal  gedurigdeur bly hoop, ek sal U altyd weer loof. Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk, van u reddingsdade bly praat, want hulle is meer as wat ek kan tel."  (Psalm 71:14,15)

Die feit dat Hy God is, behoort genoeg motivering vir jou as gelowige te wees om Hom te loof.  As jy 'n groter rede nodig het, Hy is meer as net God: Hy is 'n goeie God (Esra 3:11); Hy kan praat, sien, hoor en asemhaal (Psalm 134:16,17). Hy is oppermagtig ... en aan sy Iiefde is daar geen einde nie; Hy is die magtigste van alle maghebbers....en aan sy liefde is daar geen einde nie; Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen ... en aan sy Iiefde is daar geen einde nie. (Psalm 136:1-4)

As jy dalk nog wonder oor 'n rede om Hom te loof, dink hieraan: Hy hoor ons gebede en gee ons nuwe krag (Psalm 138:3); Hy gee voedsel aan al wat lewe (Psalm 136:25); Hy is ons verwagting en vertroue (Psalm 71) en Hy alleen kan ons onbesorg aan die slaap laat raak (Psalm 4:9).

Gebed: Vader, my woorde is maar mens-woorde en kom kort aan grootse lofinhoud, daarom net hierdie woorde: Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! Dankie! Dankie!  Amen