Xanthe Hancox

Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”  1 Konings 3:7-9

As jy een wens kan kry, wat sal dit wees? 'n Honderd miljoen rand? Vir die Bokke om die Wêreldbeker te wen? Of miskien sal jy wens dat daar 'n einde aan geweld in jou gemeenskap moet kom, of dat 'n familielid wat aan kanker ly,gesond moet word, of miskien wens jy vir gelykheid en geregtigheid.

In ons Skrifgedeelte vandag lees ons van Salomo wat droom dat die Here aan hom een wens gee. Hy vra nie dat die Israeliete na hom moet luister nie of dat die Here sy vyande moet laat verdwyn nie, hy vra vir wysheid. Let ook daarop dat nog voor hy sy wens uitspreek, noem hy dat God aan Dawid trou bewys het en nou ook aan hom.

Salomo was nie meer 'n kind nie. Hy nader God in groot nederigheid, veral gedagtig aan die reuse taak wat voor hom lê. Op sy poëtiese manier gee hy uitdrukking aan sy onbekwaamheid om die groot taak om God se volk te lei, aan te pak. Dit was sy manier om te sê: "Die taak is baie groter as ek; Ek moet op God vertrou."

Salomo vra vir meer as net baie kennis; hy vra vir insig; en hy wil dit in sy hart hê, nie net in sy verstand nie. Die antieke Hebreeuse woord wat hier met insig vertaal word beteken letterlik "hoor". Salomo vra vir 'n hart wat sal luister, een wat na God sal luister, In Efesiërs 1:18 bid Paulus en vra iets soortgelyks vir Christene: "Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,"

Wanneer ons tot God bid, waarvoor vra ons? Dink ons aan Hom as 'n soort genie wat ons grootste wense sal vervul? Of soek ons eerder krag van God en vra Hom om ons te vorm sodat ons die werk waarvoor Hy ons geroep het, vir Hom kan doen?

Gebed: Here, vergewe my al die kere wat ek my eie begeertes eerste stel, en dan vir U kwaad word omdat ek dit nie ontvang nie. Skenk aan my die krag om die dissipel te word wat U wil hê ek moet wees sodat ek kan werk aan die uitbreiding van u koninkryk.  Amen